Saturday, 31 August 2013

Kleinsêr: Resep vir 2014

Ek gaan dit claim. Ek het nou al 'n paar sêrre gesien kom en gaan. Ek het my deel al gesing, verwerk en gelei, so wat hier volg is nie net 'n "opinion piece" wat probeer lesers trek nie. Ek gee eintlik nie om as niemand dit lees nie, maar ek gaan dit link na volgende jaar se kleinsêrkompetisie net om te kyk hoe akkuraat dit was. Nostalgie is altyd 'n interessante eksperiment.

2013 was 'n uitgeknipte voorbeeld van goeie, tog onervare sêrre wat net nie heeltemal reg voorberei is vir die kompetisie nie. Baie uitstekende verwerkings, fassinerende choreografie en uitstekende soliste het verdwyn onder swak balans, slegte stem-higiëne en ander foute wat eintlik maklik uit die weg geruim kan word. Hierdie is nie gemik op enige spesifiek sêr of -leier nie; sien dit eerder as 'n "How To- and How NOT To-" handboek vir 2014. En as jy twyfel, kyk na die sêrre wat gewen het, deurgegaan het finals toe hierdie jaar en die vorige jare, en vergelyk dit met hierdie riglyne. I'm just saying.

1. Instrumente

Ek het 'n broertjie dood aan instrumente in kleinsêr. Dis nie iets wat ek in 2013 vir die eerste keer opgelet het nie; dit kom al van ons grootouers se tye af. Net omdat jy iemand in die koshuis het wat Graad 8 dwarsfluit in matriek gedoen het beteken NIE dat dit deel van die sêr moet wees nie. Kom ek sê net eers; daar is elke jaar voorbeelde van instrumente wat goed gebruik word, daarmee stry ek nie. Die saksofoon solo hierdie jaar is 'n uitstekende voorbeeld van iets wat atmosfeer bygedra het sonder om die sêr te oordonder en die pitch rond te sleep. En laat ek nou nie die een wees wat 99% van Stellenbosch se pret verwyder deur om kitare in Afrikaanse selfgeskrewes aan te vat nie; dit pas daardie styl van musiek soos jeans en tekkies 'n ingenieur pas. As jou sêr egter nie sonder enige instrumente finals kan haal nie, fokus jy op die verkeerde goed. Moenie dink aan die liedjie wat jy sonder begeleiding moet speel as 'n uitdaging nie; sien eerder die (DALK) een liedjie wat jy met begeleiding speel as 'n uitdaging. Dink daaraan as free SMS'e met 'n kontrak; net omdat jy net 20 SMS'e die maand gestuur het, beteken nie jy moet die ander 480 uit SPAM op die 30ste nie.

Ek kan hierdie regtig nie genoeg beklemtoon nie. Haal die instrumente uit sêr uit. Dit mag dalk goed klink in jou kop en in oefeninge, maar in die Endler doen dit regtig nie. 50% van die probleme wat sêrre het met pitch is as gevolg van instrumente. Op daai stage hoor jy baie moeiliker die mense om jou, wat vir 'n instrument dit baie moeiliker maak om aan te pas as die sêr effens hoog of laag is wanneer dit inkom. En die mense op stage hoor die nie, maar GLO my, die gehoor hoor dit. Die aantal awkward kyke en simpatieke fluisters wat ek hierdie jaar in daai saal gehoor het na 'n instrument inkom is te veel om te tel.

Om op te som, hier is die reël: as jy die liedjie skryf rondom jou instrument, begin oor. As jy dit inbring omdat die liedjie "iets kort", verwerk beter. As jy 'n BAIE SPESIFIEKE doel daarmee het (byvoorbeeld 'n 60's jazz tema met 'n saksofoon, 'n creepy einde met 'n xilifoon, of iets waarvoor jy 'n BAIE SPESIFIEKE instrument nodig het), bring dit in, maar net vir 'n klein deel van die liedjie. As jou instrument meer as 'n derde van die liedjie speel, doen jy iets verkeerd (buiten sommige dele met kitaar).


2. Meisies-sêrre: Alte

Sure, daar is maar min dinge so aanloklik soos 'n suiwer sopraanstem wat mans bekoor en dames laat gloei van jaloesie. Tog is 'n sopraanstem sonder alte soos 'n chilli-sous sonder 'n pizza. Meisies-sêrre kort BAIE meer alte as wat die norm op Stellenbosch was hierdie jaar. Om 'n goeie sopraan te wees moet 'n stem amper 2 oktawe kan doen (soms selfs meer), terwyl alte regtig nie 'n groot range nodig het om 'n goeie altstem te wees nie. Dis dus amper makliker om altstemme te vind as sopraanstemme, en tog word dit ongelooflik baie afgeskeep in die dames-sêrre. Die grootste probleem met dames-sêrre is dat dit baie vinnig skril word. Niks teen die meisies nie; dis vir my vrek mooi, maar net soos elkeen van ons daai tannie of dosent het wat heeltyd in daar hoë stemmetjie praat en net wil verwurg, so gaan dit ook met sêrre. Dis nie dat dit nie mooi is nie; omdat hoër note basies lae note is wat net vinniger vibreer en dus meer energie oordra, maak dit ook die menslike oor vinniger moeg. Nes 'n chilli-sous moet dit in klein dosisse geneem word vir maksimum effek. Mans het die voorsprong dat hulle 'n baie groter stemomvang as dames het oor die algemeen, aangesien hulle tot meer as 'n oktaaf laer as dames kan sing, maar ook kan oorgaan falsetto toe om note baie na aan 'n sopraan se hoë note te tref.

Die menslike oor soek van nature die hoogste noot in 'n medley of ensemble, aangesien dit gewoonlik is waar die melodie lê (dis ook hoekom dit moeiliker is om saam met die sanger in die kerk te sing as daar iemand is wat harmoniseer bo-oor die sanger) - dus gaan jy baie min die probleem hê dat soprane nie gehoor word nie; selfs al sing hulle sagter as die alte gaan mense hulle outomaties hoor. Sorg dus dat jy 'n paar goeie sopraan-soliste het, 'n soliede sopraan 2-seksie, maar dat MINSTENS helfte van die sêr bestaan uit alte. As jy alt-2's het wat 'n lae G kan sing het jy bates wat geen sopraan kan top nie.


3. Oefen buite

Die Endler se akoestiek is UITSTEKEND vir die gehoor; dit kom egter teen die koste dat mense op die verhoog glad nie kan hoor wat om hulle aangaan nie. Amper alle sêrre oefen in een of ander saal of ander geslote kamer waar die eggos van die dak en mure maak dat almal die heeltyd mekaar kan hoor; dit beteken dat almal redelik goed op pitch gaan bly tot die oomblik wat hulle op stage kom.

Die beste manier om hierdie dramatiese skok te verminder is om so vroeg moontlik buite te begin oefen. Vat jou sêr op 'n Saterdagoggend JS Marais-park toe of selfs net na die sportvelde, en laat hulle deur alles 2 keer sing. Die verskil is ongelooflik; mense gaan baie kla en sê hulle kan nie die mense om hul hoor nie, maar dis die punt. Sodra die sêr gewoond begin raak daaraan gaan hulle baie beter cope met die akoestiek op die verhoog.


4. Soliste

Deesdae is dit amper meer waaroor sêr gaan as die groep, of hoe? Tog is 'n goeie medley met die regte mengsel van soliste iets wat baie lank in mense se geheue gaan bly. Daar is egter 3 groot probleme met soliste.

Eerstens, "too much of a good thing...". Net omdat jy 15 uitstekende stemme het, beteken nie elkeen moet 'n solo kry nie. Ek wou nie spesifieke sêrre uitsonder nie, maar ek kan nie aan 'n beter voorbeeld dink as Wilgenhof 2013 nie. Meer as helfte van die sêr was huidige, toekomstige of oud-US koorlede, en tog het hulle nie al 20 laat vorentoe stap vir solo's nie. Die beste stem in hulle sêr (volgens my) het nie eers regtig 'n solo gehad nie, maar het hulle gebruik om eerder op pitch te bly en deskant-harmoniëe by te voeg. Kies jou soliste, nes jou instrumente, met 'n spesifieke doel. Hoekom gebruik jy een stem as jy 20 het om mee te werk? Laat die hele ensemble eerder die melodie sing, of een stemgroep. Soliste moet gebruik word vir effek, nie as die fondament van jou sêr nie.

Tweedens, projeksie. Dit help nie jy probeer 'n toneelstukkie opsit vir die gehoor en dit vereis van jou solis om te sing in die rigting van die sêr in plaas van die gehoor nie. As 'n solis sing, moet dit direk na die gehoor gedoen word. As die solis selfs net meer as 45 grade sy gesig draai van die gehoor af, verloor helfte van die saal die vermoë om hom te hoor, en dan sit jy met 'n klomp "aah"'s en "dooh"'s wat niemand aanstaan nie. Gans te veel soliste het hierdie jaar as deel van die "show" hulle gesigte weggedraai van die gehoor af, en dan kan jy net sowel nie gesing het nie.

Derdens. Rus. Soliste se stemme GAAN eerste gaan. Alhoewel dit gewoonlik die mense is wie se stemme meer ingeoefen is, moet hulle in elke oefening harder sing, meer konsentreer en meer stres op hul stembande plaas. Dan kom sêrloop en ander nagtelike prettighede, en jy sit weer met klomp begeleiding sonder 'n melodie teen die uitdunne. Sorg dat die solis 'n understudy het wat kan oorneem as die ergste gebeur, maar sorg ook dat MINSTENS 'n week voor die kompetisie jy die solis net een keer per oefening laat saamsing teen volle volume. Die sêr weet mos teen dan al hoe dit klink, so laat hy/sy net saggies saamsing of neurie om in oefening te bly.


5. Medleys

Kort en kragtig. Verwerkings van volledige songs is beter as medleys. Ek het al op te veel judges terugvoer vorms gesien "kon dit nie beter gewerk het as dit nie 'n medley was nie?". Die beoordelaars hou meer van langer liedjies wat goed verwerk is. Medleys is net 'n verskoning om slegte verwerkings te bedek met variërende liedjies. Ja, daar is plek vir medleys (weereens, Willows: case in point), maar moenie net 'n lys van 20 liedjies vat en dit opdeel in 5 medleys omdat jy nie kan besluit watter jy wil doen nie. Kies eerder een, maksimum twee medleys met 'n baie spesifieke tema wat gedeel word deur die liedjies wat jy daarin sit, en sorg dan dat elke liedjie in die medley genoeg tyd kry. Dit help nie as jy 10 liedjies in 'n 2-minuut medley sit en teen die tyd wat die gehoor die liedjie herken is jy al 2 songs aan nie. Die res van jou program doen jy GOEIE verwerkings van volle liedjies. Haal dalk die laaste chorus en die bridge uit om tyd en verveeldheid te spaar, maar as jy die gehoor se aandag kan gryp met 'n intro, 2 versies en chorusse is daar niks wat jy nie kan doen nie.


6. Rus

As jy teen die week voor die kompetisie nog nie semis gaan haal nie, gaan jy nie semis haal nie. Alle sêrre is nog onseker en nie reg teen dan nie, maar om 3 ure 'n dag te oefen vir die laaste week gaan jou BESLIS meer skade as goed aandoen. 'n Week voor jou optrede gaan sit jy en besluit waaraan spesifiek moet gewerk word; wat is 'n ramp as dit nie regkom nie? Hou een 2 uur oefening waarin jy vir almal verduidelik wat reggemaak moet word, oefen dit in, maar moenie drill nie. Haal eerder uit as wat jy nog byvoeg teen hierdie stadium.

En dan? Dan gee jy hulle 'n dag af. Oefen 3 keer die hele week voor die oefening, en moenie dink "klein oefeninge tel nie rerig nie". Laat die mense rus. As hulle moeg raak van sing is jy in die moeilikheid, want dan is dit nie net die energie wat verdwyn nie, maar pitch, gesigsuitdrukkings en dalk selfs stemme. Weereens, case in point: Dagbreek. Mens kon by die semi-finale HOOR dat hulle gerus het van die uitdunne af. Meeste van die ander sêrre se stemme was so moeg en sat dat mense hulle beoordeel het dat hulle nie dinamiek of variasie ingewerk het nie, maar dit was net hul stemme wat op was. 'n Uitgerusde stem is (meestal) 'n uitgerusde mens, en dan kom almal met daai entoesiasme op die verhoog wat 'n sêr werklik laat uitstaan.


7. Vra vir hulp

Daar's 'n hele Musiekdepartement. Daar's 'n hele Universiteitskoor. Moenie my vertel dat jy niemand daar ken nie. Ek meen, die US-koor is groter as sommige koshuise, en van die mense daar kuier harder as 'n eerstejaar in Tollies. En baie van hulle dink dalk hulle weet nie wat gaan vir wat nie, maar vra hulle net om een keer in te sit by 'n oefening en te crit. Vra hulle hoe die koor opwarm, vra hulle hoe om vokale uit te spreek, vra hulle hoe om te dink wanneer jy hoog of laag sing. Daars tienduisend klein tips wat enigiemand wat koor sing vir jou kan aanstuur, en GLO my, dit gaan 'n verskil maak. En soos ek sê, daar's 'n hele Musiekdepartement ook. As jy iemand daar ken, soveel beter vir jou sêr.


8. Geniet dit!

Die laaste tip, die mees obvious een, en seker die belangrikste een, is om dit te geniet, en seker te maak mense kan sien jy geniet dit. Dooie gesigte het dit nog nooit tot in die finals gemaak nie. Kry mense uit jou koshuis/PSO om te kom insit op oefeninge sodat die sêr gewoond raak aan 'n gehoor, en vra die mense dan om terugvoer te gee oor die sêr se gesigte. Wie lyk dood, wie kyk te veel rond, wie se bewegings pas nie by die res van die sêr nie? Laat elke lid ook voor 'n spieël oefen êrens deur die loop van die jaar, net sodat hulle 'n idee kry van hoe hulle lyk. Nog beter, kry 'n videokamera en neem die sêr af terwyl hulle oefen, en laat almal dit ontleed. Dit help vir spangees en maak almal soveel meer bewus van hoe hulle lyk as hulle sing.




Hierdie is nie die "recipe for success" nie. Dit is egter die regte lys bestanddele. As jy hierdie goed koppel met goeie verwerkings, goeie stemme en 'n goeie sêrleier is die kanse baie groot dat julle sêr goed gaan doen.

No comments:

Post a Comment