Tuesday, 25 June 2013

Wie bestuur?



Ek sukkel met geloof. Ek weet ek is nie die enigste een nie.
Hierdie is egter nie ‘n stuk wat die bestaan van God debatteer nie. Alhoewel daar millennia se teks daaroor geskryf kan word, gaan ek vir die doel van hierdie skryfstuk aanvaar dat jy aanneem dat God bestaan en is wie Hy se Hy is in die Bybel. Ek gaan ook nie hierin debatteer hoekom God slegte dinge met goeie mense laat gebeur en andersom nie; dit is ook ‘n gesprek vir ‘n ander tyd.
Ek betwyfel nie die bestaan van God nie. Ek weet daar is baie mense, selfs baie Christene, wat wel doen, maar sommige van ons en, ek kan selfs so ver gaan as om te se meeste Christene, is op een of ander stadium in ons lewe wel seker van die bestaan van God. Wanneer jy met millimeters die paal op die straathoek misjaag teen 120km/h. Wanneer jy die “Slaag” op jou eksamenuitslae sien. Wanneer jy ‘n pasgebore baba vir die eerste maal in jou arms vashou. En alhoewel hierdie sekerheid nie altyd konstant bly in almal se lewe nie, is dit die interpretasie van Wie God is wat meer probleme veroorsaak in my gemoed, en, ek dink, veral in die gemoed van die moderne mens.
Ek sukkel wel om konstant bewus te wees van die feit dat Hy die beste vir my wil he, en nie bereid is om my prys te gee ter wille van die groter prentjie nie. Ek gee nie rerig om as dit so is nie, want Sy beter prentjie is tog die een waar alles vir die beste uitwerk, en, tipies van die generasie wat met films soos “Gladiator” en “Batman” grootgeword het, sien ek opoffering as ‘n soms nodige aspek van geluk, veral as dit by jou geluk in die groter prentjie van die samelewing kom. Maar ek ken genoeg mense wat so is; mense wat iets doen “for the greater good”, en sommige mense seermaak of uit die kring uitstoot om ‘n groter aantal mense gelukkig te maak of te beveilig. En ek kan daarmee werk.
Maar ek kan nie my volle vertroue op so ‘n persoon stel nie.
Dis waar my probleem met geloof inkom. Ek weet Hy is daar. Ek weet Hy is lief vir my. Maar soos ‘n ouer soms ‘n kind moet teleurstel omdat hy of sy nie fisies op twee plekke op een stadium kan wees nie, of omdat die werk net prioriteit MOET neem, so sukkel ek om die prentjie van God wat, maak nie saak wat, maak nie saak wanneer nie, ALTYD daar sal wees vir my en my bo almal anders liefhe. Om ten volle ‘n lewe van geloof te leef, moet daar eers vertroue wees. Geloof is iets selfs meer as vertroue, nes ‘n huwelik iets selfs meer as vriendskap is, en daarom moet vertroue eers kom voor daar geloof kan wees. My probleem met geloof is dus nie die afwesigheid van sekerheid oor dinge soos God se bestaan of doel nie, maar eerder met vertroue; met daardie deeltjie van myself wat altyd een tree terug neem van die afgrond af omdat, op die ou einde, my veiligheid en geluk van myself afhang.
Hierdie probleem stam vir my uit geestelike “Daddy-issues” uit. Ek het nog niemand in my lewe gehad wat my nie op een of ander manier teleur gestel het nie, en daarom het ek nog altyd dinge onder my eie beheer probeer hou. Maak nie saak of jy die ander persoon “vertrou” of maak of hulle eintlik in beheer is nie; jy sorg maar altyd dat jy ‘n vinger in die pastei het sodat jy onmiddelik kan koes as die pastei die aircon tref. Want WAT as jou vriend vergeet, of moet kies tussen jou en... wel, sy meisie, of wat as jy nie eintlik so belangrik is vir almal as wat jy dink nie...
Jy kan sien hoe mens trust issues kan opbou met so ‘n denkwyse.
Hoe langer jy in ‘n verhouding met iemand staan, hoe meer geleenthede is daar vir die persoon om jou teleur te stel. Iemand wat jy onlangs ontmoet het vertrou jy dalk nie soveel as daardie vriend wat jy al ken van laerskool af nie, maar tog is daar ‘n meer naïewe vlak van vertroue omdat die persoon nog nie enige skade aan jou gemoed gedoen het nie. Die verhouding met God is ‘n lewenslange een, want selfs al het jy eers gister hom as jou Vader aanvaar, beteken dit dat jy erken dat Hy al van dag een af die leidende rol in jou lewe gespeel het. Dus begin jy terugkyk en al die dinge wat al fout gegaan het in jou lewe raaksien; al die seer, al die verwyt, en voel jy asof Hy wel dalk bestaan, maar Hy so elke ses maande wakker skrik, sien dat jy besig is om te bloei van alles, en dan gou ingryp met ‘n seëning of twee en dan hoop jy is weer gelukkig daarmee vir ‘n paar maande.
Hierdie siening kom vanuit ‘n baie basiese miskonsepsie van hoe God werk, hoe die samelewing werk, en hoe liefde werk. Die eerste, en mees basiese konsep wat ons moet snap is dat die samelewing en die seer wat ons ervaar, nie van God af kom nie. Die feit dat Hy ons elkeen vrye teuels gegee het om ons lewe te leef maak die deur oop vir soveel seer, want dit beteken dat ons lewens affekteer word deur nie net God se besluit nie, maar die besluite van miljoene, biljoene onvolmaakte mense wat keer op keer foute maak, haat en vrees uitdruk en soms aktief jou geluk gaan teëwerk. Dus is ons geluk afhanklik van ander mense, nie waar nie?
Dit is waar die kritieke draaipunt inkom. Hierdie “vrye teuels” wat Hy ons gee om ons eie besluite te maak is eintlik die Een Groot Toets, wat, as jy slaag, gewaarborg is om vir jou geluk en vervulling in swembadgrootte bakke aan te gee. Die vraag is, vertrou jy My? Geen spesifikasie word gemaak vir tyd of gebied van vertroue nie. Die vertroue is, met ander woorde, nie uitsluitlik vir jou liefdeslewe, of akademie of padveiligheid nie. Die opsies is nie 1. Ja, 2. Ja, Maar en 3. Nee nie. Dis ‘n eenvoudige twee-moontlikheid opsie. “Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.” – Openbaring 3:16.
Die vergelyking van ‘n kar kan gebruik word. Om hierdie vraag reg te beantwoord is dit nodig om heeltemaal die kar te stop, bestuurders om te ruil, en van voor af te begin. Jy KAN teen 120km/h op die snelweg bestuurders ruil, maar dit is soveel meer gevaarlik, stresvol en moeilik vir almal betrokke. En as jy wel iemand anders agter die stuur geplaas het, gaan die kar enigsins ordentlik kan ry as jy nog jou hand op die rathefboom of jou voet op die versneller het? Dit beteken nie jy moet skielik ‘n oomblik van helderheid hê en daarna sal jou geloofslewe in orde wees nie, want hierdie proses gaan aanhou tot die dag dat jy doodgaan. Maar jy moet begin briek, want jy wil so gou moontlik besef hoeveel dinge jy eintlik nog aan jouself toeëien.
Nou wat nou gemaak? Hou ons summier op met ons lewens en gaan klooster onsself weg? Verwag ons ‘n uitruilskema van “Bybelversies vir geluk” of iets soortgelyk?
Nee. “As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle.” – Johannes 15:19
Ons gaan dit nie maklik hê nie. Om evangelisasie te kan doen, moet ons uitgaan in die wêreld en Sy voorbeeld leef. Dit beteken dat sommige prokureurs moet word, sommige rekenmeesters, en sommige loodgieters, want elkeen gaan op plekke kom wat net hy of sy in daardie beroep, met daardie geleenthede toegelaat word. Dit beteken egter ‘n radikale verandering in hoe jy jou geluk benader. Tans werk ons hard in die dag, kom in die aand by die huis en verwag ‘n meer ontspanne atmosfeer, want ons verdien dit. Dieselfde gebeur in ons geloof. Ons swot en werk hard, en doen klomp dinge omdat ons moet, omdat ons belangrik is of omdat ons kan. Dan, wanneer dinge begin sleg gaan, draai ons na God toe en verwag dat Hy die slack optel omdat Hy mos belowe het dat Hy vir ons sal sorg. En omdat ons mos bid, Bybel lees en kerk toe gaan, kan ons vanuit ‘n rustige gemoed se “Maar kyk net hoe goed volg ek vir U, dis darem nou tyd dat U weer iets vir my doen”, so asof ons die heeltyd een treë voor Jesus probeer bly en dan vanuit ‘n posisie van eie prestasie probeer bargain om ons verder te bring.
Dalk is jou doel juis nie dit waaraan jy so hard gewerk het nie. Dalk het God iets heeltemaal anders in gedagte vir jou as jou eie planne. Dalk besef jy dit al, maar wil jy EINTLIK nie daardie pad volg nie, want in jou oë kan dit eenvoudig nie goed eindig vir jou nie. En dit is hier waar ons moet terugkyk en agterkom dat Hy nog altyd getrou was. Neem gou ‘n oomblik en dink of daar al ‘n situasie was waar jy oortuig was jy die regte keuses en besluite geneem het, en dinge toe nie uitgewerk het soos dit moes nie; was daar ook al gevalle waar jy keer op keer die verkeerde besluit gemaak het, maar dinge wel opgeëindig het met jou op ‘n beter posisie as wat jy andersins sou dink jy in sou wees?
Maar hierdie stryery oor wêreldse pryse vir hemelse geloof is nie die punt nie. Gee jy jou tiende omdat jy moet, of omdat jy so vas oortuig is dat jou finansiele sukses van God afhang dat dit nie saakmaak hoeveel jy weggee nie, want Hy is in beheer? Sy Plan is altyd volmaak, en as jy terugkyk op jou lewe sal jy agterkom dat ten spyte van die feit dat jy al heel pad spook teen dit wat Hy vir jou beplan, het Hy dinge laat uitwerk op so ‘n ongelooflike manier dat jy nie net lewe op die oomblik nie, maar mense het wat lief is vir jou, geleenthede het wat jou nuwe ervarings bied en uitdagings wat jou versadig. Soms is die balans hiervan in ons oe heeltemaal uit; soms is die verhouding tussen vriende en uitdagings gans te klein, byvoorbeeld. “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte veroek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” – 1 Korintiërs 10:13. As jy in ‘n situasie is waar jy voel jy spartel nou te erg; jy kan nie meer uithou in hierdie omstandighede nie, die versoeking om in te gee is net te erg... Gee in. Maar gee in aan God. Stuur ‘n gebed op wat vra dat Hy jou sal verlos, dat Hy jou sal help, en hou op probeer om op jou eie krag deur die ding te kom. Want in hierdie geval kan mens die Engelse gesegde aanpas om te lui: “We may still have a battle, but He’s already won the war.” Dit gaan nie beteken dat jy nooit weer daarmee gaan sukkel nie. Maar dit gaan beteken dat jy die volgende keer wat dit gebeur, vinniger gaan onthou dat jy nie self daarteen moet spook nie, maar dit vir God gee. Want Hy het daarteen geveg. Hy het baklei, en met sy Lewe betaal sodat ons verlos kan word van alle sonde, van alle versoeking en beproewing. Om nie dit vir Hom te gee nie is nie net sleg vir jou nie, maar wys dat jy nie Sy opoffering aan die kruis sien as genoeg om jou probleme op te los nie.
Dit is hoekom ons al hoe meer in die Woord moet leef. “Dit gaan goed met die mens wat deur U opgevoed word, Here, vir wie U onderrig in u woord.” – Psalms 94:12. Die enigste manier om onderrig te word deur God is om te leef in die Woord. Om dit nie net iets te maak wat jy vir 10 minute ‘n aand deurblaai nie, maar om dit te leer ken. Want hoe meer jy dit leer ken; dit lees, daaroor dink, daaroor gesels met God in gebed en met mense in gesprekke, hoe meer gaan dit deel word van jou en hoe meer gaan jy in alledaagse situasies kom en ‘n vers onthou wat betrekking het tot die situasie. Ons lees nie Bybel om God gelukkig te maak nie. Ons lees Bybel want God wil ons gelukkig maak.
Die moeilikste deel van Christen-wees is nie om te bekeer, of om deur die slegte tye moed te hou nie. Dis om in die tye wanneer jy nie weet of dit goed of sleg gaan nie, raak te sien dat God nie uitgetreë het tot die volgende krisis nie, maar dat jy steeds besig is om die teuels te gryp by Hom. Los die stuurwiel. Gee oor. Vertrou. En wees gelukkig.

No comments:

Post a Comment