Ek gaan dit claim. Ek het nou al 'n paar sêrre gesien kom en gaan. Ek het my deel al gesing, verwerk en gelei, so wat hier volg is nie net 'n "opinion piece" wat probeer lesers trek nie. Ek gee eintlik nie om as niemand dit lees nie, maar ek gaan dit link na volgende jaar se kleinsêrkompetisie net om te kyk hoe akkuraat dit was. Nostalgie is altyd 'n interessante eksperiment.
2013 was 'n uitgeknipte voorbeeld van goeie, tog onervare sêrre wat net nie heeltemal reg voorberei is vir die kompetisie nie. Baie uitstekende verwerkings, fassinerende choreografie en uitstekende soliste het verdwyn onder swak balans, slegte stem-higiëne en ander foute wat eintlik maklik uit die weg geruim kan word. Hierdie is nie gemik op enige spesifiek sêr of -leier nie; sien dit eerder as 'n "How To- and How NOT To-" handboek vir 2014. En as jy twyfel, kyk na die sêrre wat gewen het, deurgegaan het finals toe hierdie jaar en die vorige jare, en vergelyk dit met hierdie riglyne. I'm just saying.
1. Instrumente
Ek het 'n broertjie dood aan instrumente in kleinsêr. Dis nie iets wat ek in 2013 vir die eerste keer opgelet het nie; dit kom al van ons grootouers se tye af. Net omdat jy iemand in die koshuis het wat Graad 8 dwarsfluit in matriek gedoen het beteken NIE dat dit deel van die sêr moet wees nie. Kom ek sê net eers; daar is elke jaar voorbeelde van instrumente wat goed gebruik word, daarmee stry ek nie. Die saksofoon solo hierdie jaar is 'n uitstekende voorbeeld van iets wat atmosfeer bygedra het sonder om die sêr te oordonder en die pitch rond te sleep. En laat ek nou nie die een wees wat 99% van Stellenbosch se pret verwyder deur om kitare in Afrikaanse selfgeskrewes aan te vat nie; dit pas daardie styl van musiek soos jeans en tekkies 'n ingenieur pas. As jou sêr egter nie sonder enige instrumente finals kan haal nie, fokus jy op die verkeerde goed. Moenie dink aan die liedjie wat jy sonder begeleiding moet speel as 'n uitdaging nie; sien eerder die (DALK) een liedjie wat jy met begeleiding speel as 'n uitdaging. Dink daaraan as free SMS'e met 'n kontrak; net omdat jy net 20 SMS'e die maand gestuur het, beteken nie jy moet die ander 480 uit SPAM op die 30ste nie.
Ek kan hierdie regtig nie genoeg beklemtoon nie. Haal die instrumente uit sêr uit. Dit mag dalk goed klink in jou kop en in oefeninge, maar in die Endler doen dit regtig nie. 50% van die probleme wat sêrre het met pitch is as gevolg van instrumente. Op daai stage hoor jy baie moeiliker die mense om jou, wat vir 'n instrument dit baie moeiliker maak om aan te pas as die sêr effens hoog of laag is wanneer dit inkom. En die mense op stage hoor die nie, maar GLO my, die gehoor hoor dit. Die aantal awkward kyke en simpatieke fluisters wat ek hierdie jaar in daai saal gehoor het na 'n instrument inkom is te veel om te tel.
Om op te som, hier is die reël: as jy die liedjie skryf rondom jou instrument, begin oor. As jy dit inbring omdat die liedjie "iets kort", verwerk beter. As jy 'n BAIE SPESIFIEKE doel daarmee het (byvoorbeeld 'n 60's jazz tema met 'n saksofoon, 'n creepy einde met 'n xilifoon, of iets waarvoor jy 'n BAIE SPESIFIEKE instrument nodig het), bring dit in, maar net vir 'n klein deel van die liedjie. As jou instrument meer as 'n derde van die liedjie speel, doen jy iets verkeerd (buiten sommige dele met kitaar).
2. Meisies-sêrre: Alte
Sure, daar is maar min dinge so aanloklik soos 'n suiwer sopraanstem wat mans bekoor en dames laat gloei van jaloesie. Tog is 'n sopraanstem sonder alte soos 'n chilli-sous sonder 'n pizza. Meisies-sêrre kort BAIE meer alte as wat die norm op Stellenbosch was hierdie jaar. Om 'n goeie sopraan te wees moet 'n stem amper 2 oktawe kan doen (soms selfs meer), terwyl alte regtig nie 'n groot range nodig het om 'n goeie altstem te wees nie. Dis dus amper makliker om altstemme te vind as sopraanstemme, en tog word dit ongelooflik baie afgeskeep in die dames-sêrre. Die grootste probleem met dames-sêrre is dat dit baie vinnig skril word. Niks teen die meisies nie; dis vir my vrek mooi, maar net soos elkeen van ons daai tannie of dosent het wat heeltyd in daar hoë stemmetjie praat en net wil verwurg, so gaan dit ook met sêrre. Dis nie dat dit nie mooi is nie; omdat hoër note basies lae note is wat net vinniger vibreer en dus meer energie oordra, maak dit ook die menslike oor vinniger moeg. Nes 'n chilli-sous moet dit in klein dosisse geneem word vir maksimum effek. Mans het die voorsprong dat hulle 'n baie groter stemomvang as dames het oor die algemeen, aangesien hulle tot meer as 'n oktaaf laer as dames kan sing, maar ook kan oorgaan falsetto toe om note baie na aan 'n sopraan se hoë note te tref.
Die menslike oor soek van nature die hoogste noot in 'n medley of ensemble, aangesien dit gewoonlik is waar die melodie lê (dis ook hoekom dit moeiliker is om saam met die sanger in die kerk te sing as daar iemand is wat harmoniseer bo-oor die sanger) - dus gaan jy baie min die probleem hê dat soprane nie gehoor word nie; selfs al sing hulle sagter as die alte gaan mense hulle outomaties hoor. Sorg dus dat jy 'n paar goeie sopraan-soliste het, 'n soliede sopraan 2-seksie, maar dat MINSTENS helfte van die sêr bestaan uit alte. As jy alt-2's het wat 'n lae G kan sing het jy bates wat geen sopraan kan top nie.
3. Oefen buite
Die Endler se akoestiek is UITSTEKEND vir die gehoor; dit kom egter teen die koste dat mense op die verhoog glad nie kan hoor wat om hulle aangaan nie. Amper alle sêrre oefen in een of ander saal of ander geslote kamer waar die eggos van die dak en mure maak dat almal die heeltyd mekaar kan hoor; dit beteken dat almal redelik goed op pitch gaan bly tot die oomblik wat hulle op stage kom.
Die beste manier om hierdie dramatiese skok te verminder is om so vroeg moontlik buite te begin oefen. Vat jou sêr op 'n Saterdagoggend JS Marais-park toe of selfs net na die sportvelde, en laat hulle deur alles 2 keer sing. Die verskil is ongelooflik; mense gaan baie kla en sê hulle kan nie die mense om hul hoor nie, maar dis die punt. Sodra die sêr gewoond begin raak daaraan gaan hulle baie beter cope met die akoestiek op die verhoog.
4. Soliste
Deesdae is dit amper meer waaroor sêr gaan as die groep, of hoe? Tog is 'n goeie medley met die regte mengsel van soliste iets wat baie lank in mense se geheue gaan bly. Daar is egter 3 groot probleme met soliste.
Eerstens, "too much of a good thing...". Net omdat jy 15 uitstekende stemme het, beteken nie elkeen moet 'n solo kry nie. Ek wou nie spesifieke sêrre uitsonder nie, maar ek kan nie aan 'n beter voorbeeld dink as Wilgenhof 2013 nie. Meer as helfte van die sêr was huidige, toekomstige of oud-US koorlede, en tog het hulle nie al 20 laat vorentoe stap vir solo's nie. Die beste stem in hulle sêr (volgens my) het nie eers regtig 'n solo gehad nie, maar het hulle gebruik om eerder op pitch te bly en deskant-harmoniëe by te voeg. Kies jou soliste, nes jou instrumente, met 'n spesifieke doel. Hoekom gebruik jy een stem as jy 20 het om mee te werk? Laat die hele ensemble eerder die melodie sing, of een stemgroep. Soliste moet gebruik word vir effek, nie as die fondament van jou sêr nie.
Tweedens, projeksie. Dit help nie jy probeer 'n toneelstukkie opsit vir die gehoor en dit vereis van jou solis om te sing in die rigting van die sêr in plaas van die gehoor nie. As 'n solis sing, moet dit direk na die gehoor gedoen word. As die solis selfs net meer as 45 grade sy gesig draai van die gehoor af, verloor helfte van die saal die vermoë om hom te hoor, en dan sit jy met 'n klomp "aah"'s en "dooh"'s wat niemand aanstaan nie. Gans te veel soliste het hierdie jaar as deel van die "show" hulle gesigte weggedraai van die gehoor af, en dan kan jy net sowel nie gesing het nie.
Derdens. Rus. Soliste se stemme GAAN eerste gaan. Alhoewel dit gewoonlik die mense is wie se stemme meer ingeoefen is, moet hulle in elke oefening harder sing, meer konsentreer en meer stres op hul stembande plaas. Dan kom sêrloop en ander nagtelike prettighede, en jy sit weer met klomp begeleiding sonder 'n melodie teen die uitdunne. Sorg dat die solis 'n understudy het wat kan oorneem as die ergste gebeur, maar sorg ook dat MINSTENS 'n week voor die kompetisie jy die solis net een keer per oefening laat saamsing teen volle volume. Die sêr weet mos teen dan al hoe dit klink, so laat hy/sy net saggies saamsing of neurie om in oefening te bly.
5. Medleys
Kort en kragtig. Verwerkings van volledige songs is beter as medleys. Ek het al op te veel judges terugvoer vorms gesien "kon dit nie beter gewerk het as dit nie 'n medley was nie?". Die beoordelaars hou meer van langer liedjies wat goed verwerk is. Medleys is net 'n verskoning om slegte verwerkings te bedek met variërende liedjies. Ja, daar is plek vir medleys (weereens, Willows: case in point), maar moenie net 'n lys van 20 liedjies vat en dit opdeel in 5 medleys omdat jy nie kan besluit watter jy wil doen nie. Kies eerder een, maksimum twee medleys met 'n baie spesifieke tema wat gedeel word deur die liedjies wat jy daarin sit, en sorg dan dat elke liedjie in die medley genoeg tyd kry. Dit help nie as jy 10 liedjies in 'n 2-minuut medley sit en teen die tyd wat die gehoor die liedjie herken is jy al 2 songs aan nie. Die res van jou program doen jy GOEIE verwerkings van volle liedjies. Haal dalk die laaste chorus en die bridge uit om tyd en verveeldheid te spaar, maar as jy die gehoor se aandag kan gryp met 'n intro, 2 versies en chorusse is daar niks wat jy nie kan doen nie.
6. Rus
As jy teen die week voor die kompetisie nog nie semis gaan haal nie, gaan jy nie semis haal nie. Alle sêrre is nog onseker en nie reg teen dan nie, maar om 3 ure 'n dag te oefen vir die laaste week gaan jou BESLIS meer skade as goed aandoen. 'n Week voor jou optrede gaan sit jy en besluit waaraan spesifiek moet gewerk word; wat is 'n ramp as dit nie regkom nie? Hou een 2 uur oefening waarin jy vir almal verduidelik wat reggemaak moet word, oefen dit in, maar moenie drill nie. Haal eerder uit as wat jy nog byvoeg teen hierdie stadium.
En dan? Dan gee jy hulle 'n dag af. Oefen 3 keer die hele week voor die oefening, en moenie dink "klein oefeninge tel nie rerig nie". Laat die mense rus. As hulle moeg raak van sing is jy in die moeilikheid, want dan is dit nie net die energie wat verdwyn nie, maar pitch, gesigsuitdrukkings en dalk selfs stemme. Weereens, case in point: Dagbreek. Mens kon by die semi-finale HOOR dat hulle gerus het van die uitdunne af. Meeste van die ander sêrre se stemme was so moeg en sat dat mense hulle beoordeel het dat hulle nie dinamiek of variasie ingewerk het nie, maar dit was net hul stemme wat op was. 'n Uitgerusde stem is (meestal) 'n uitgerusde mens, en dan kom almal met daai entoesiasme op die verhoog wat 'n sêr werklik laat uitstaan.
7. Vra vir hulp
Daar's 'n hele Musiekdepartement. Daar's 'n hele Universiteitskoor. Moenie my vertel dat jy niemand daar ken nie. Ek meen, die US-koor is groter as sommige koshuise, en van die mense daar kuier harder as 'n eerstejaar in Tollies. En baie van hulle dink dalk hulle weet nie wat gaan vir wat nie, maar vra hulle net om een keer in te sit by 'n oefening en te crit. Vra hulle hoe die koor opwarm, vra hulle hoe om vokale uit te spreek, vra hulle hoe om te dink wanneer jy hoog of laag sing. Daars tienduisend klein tips wat enigiemand wat koor sing vir jou kan aanstuur, en GLO my, dit gaan 'n verskil maak. En soos ek sê, daar's 'n hele Musiekdepartement ook. As jy iemand daar ken, soveel beter vir jou sêr.
8. Geniet dit!
Die laaste tip, die mees obvious een, en seker die belangrikste een, is om dit te geniet, en seker te maak mense kan sien jy geniet dit. Dooie gesigte het dit nog nooit tot in die finals gemaak nie. Kry mense uit jou koshuis/PSO om te kom insit op oefeninge sodat die sêr gewoond raak aan 'n gehoor, en vra die mense dan om terugvoer te gee oor die sêr se gesigte. Wie lyk dood, wie kyk te veel rond, wie se bewegings pas nie by die res van die sêr nie? Laat elke lid ook voor 'n spieël oefen êrens deur die loop van die jaar, net sodat hulle 'n idee kry van hoe hulle lyk. Nog beter, kry 'n videokamera en neem die sêr af terwyl hulle oefen, en laat almal dit ontleed. Dit help vir spangees en maak almal soveel meer bewus van hoe hulle lyk as hulle sing.
Hierdie is nie die "recipe for success" nie. Dit is egter die regte lys bestanddele. As jy hierdie goed koppel met goeie verwerkings, goeie stemme en 'n goeie sêrleier is die kanse baie groot dat julle sêr goed gaan doen.
Saturday, 31 August 2013
Tuesday, 25 June 2013
Wie bestuur?
Ek sukkel met geloof. Ek weet ek is nie die enigste een nie.
Hierdie is egter nie ‘n stuk wat die bestaan van God
debatteer nie. Alhoewel daar millennia se teks daaroor geskryf kan word, gaan
ek vir die doel van hierdie skryfstuk aanvaar dat jy aanneem dat God bestaan en
is wie Hy se Hy is in die Bybel. Ek gaan ook nie hierin debatteer hoekom God
slegte dinge met goeie mense laat gebeur en andersom nie; dit is ook ‘n gesprek
vir ‘n ander tyd.
Ek betwyfel nie die bestaan van God nie. Ek weet daar is
baie mense, selfs baie Christene, wat wel doen, maar sommige van ons en, ek kan
selfs so ver gaan as om te se meeste Christene, is op een of ander stadium in
ons lewe wel seker van die bestaan van God. Wanneer jy met millimeters die paal
op die straathoek misjaag teen 120km/h. Wanneer jy die “Slaag” op jou
eksamenuitslae sien. Wanneer jy ‘n pasgebore baba vir die eerste maal in jou
arms vashou. En alhoewel hierdie sekerheid nie altyd konstant bly in almal se
lewe nie, is dit die interpretasie van Wie God is wat meer probleme veroorsaak
in my gemoed, en, ek dink, veral in die gemoed van die moderne mens.
Ek sukkel wel om konstant bewus te wees van die feit dat Hy
die beste vir my wil he, en nie bereid is om my prys te gee ter wille van die
groter prentjie nie. Ek gee nie rerig om as dit so is nie, want Sy beter
prentjie is tog die een waar alles vir die beste uitwerk, en, tipies van die
generasie wat met films soos “Gladiator” en “Batman” grootgeword het, sien ek
opoffering as ‘n soms nodige aspek van geluk, veral as dit by jou geluk in die
groter prentjie van die samelewing kom. Maar ek ken genoeg mense wat so is;
mense wat iets doen “for the greater good”, en sommige mense seermaak of uit die
kring uitstoot om ‘n groter aantal mense gelukkig te maak of te beveilig. En ek
kan daarmee werk.
Maar ek kan nie my volle vertroue op so ‘n persoon stel nie.
Dis waar my probleem met geloof inkom. Ek weet Hy is daar.
Ek weet Hy is lief vir my. Maar soos ‘n ouer soms ‘n kind moet teleurstel omdat
hy of sy nie fisies op twee plekke op een stadium kan wees nie, of omdat die
werk net prioriteit MOET neem, so sukkel ek om die prentjie van God wat, maak
nie saak wat, maak nie saak wanneer nie, ALTYD daar sal wees vir my en my bo
almal anders liefhe. Om ten volle ‘n lewe van geloof te leef, moet daar eers
vertroue wees. Geloof is iets selfs meer as vertroue, nes ‘n huwelik iets selfs
meer as vriendskap is, en daarom moet vertroue eers kom voor daar geloof kan wees.
My probleem met geloof is dus nie die afwesigheid van sekerheid oor dinge soos
God se bestaan of doel nie, maar eerder met vertroue; met daardie deeltjie van
myself wat altyd een tree terug neem van die afgrond af omdat, op die ou einde,
my veiligheid en geluk van myself afhang.
Hierdie probleem stam vir my uit geestelike “Daddy-issues”
uit. Ek het nog niemand in my lewe gehad wat my nie op een of ander manier
teleur gestel het nie, en daarom het ek nog altyd dinge onder my eie beheer
probeer hou. Maak nie saak of jy die ander persoon “vertrou” of maak of hulle
eintlik in beheer is nie; jy sorg maar altyd dat jy ‘n vinger in die pastei het
sodat jy onmiddelik kan koes as die pastei die aircon tref. Want WAT as jou
vriend vergeet, of moet kies tussen jou en... wel, sy meisie, of wat as jy nie
eintlik so belangrik is vir almal as wat jy dink nie...
Jy kan sien hoe mens trust issues kan opbou met so ‘n
denkwyse.
Hoe langer jy in ‘n verhouding met iemand staan, hoe meer
geleenthede is daar vir die persoon om jou teleur te stel. Iemand wat jy
onlangs ontmoet het vertrou jy dalk nie soveel as daardie vriend wat jy al ken
van laerskool af nie, maar tog is daar ‘n meer naïewe vlak van vertroue omdat
die persoon nog nie enige skade aan jou gemoed gedoen het nie. Die verhouding
met God is ‘n lewenslange een, want selfs al het jy eers gister hom as jou
Vader aanvaar, beteken dit dat jy erken dat Hy al van dag een af die leidende
rol in jou lewe gespeel het. Dus begin jy terugkyk en al die dinge wat al fout
gegaan het in jou lewe raaksien; al die seer, al die verwyt, en voel jy asof Hy
wel dalk bestaan, maar Hy so elke ses maande wakker skrik, sien dat jy besig is
om te bloei van alles, en dan gou ingryp met ‘n seëning of twee en dan hoop jy
is weer gelukkig daarmee vir ‘n paar maande.
Hierdie siening kom vanuit ‘n baie basiese miskonsepsie van
hoe God werk, hoe die samelewing werk, en hoe liefde werk. Die eerste, en mees
basiese konsep wat ons moet snap is dat die samelewing en die seer wat ons
ervaar, nie van God af kom nie. Die feit dat Hy ons elkeen vrye teuels gegee
het om ons lewe te leef maak die deur oop vir soveel seer, want dit beteken dat
ons lewens affekteer word deur nie net God se besluit nie, maar die besluite
van miljoene, biljoene onvolmaakte mense wat keer op keer foute maak, haat en
vrees uitdruk en soms aktief jou geluk gaan teëwerk. Dus is ons geluk afhanklik
van ander mense, nie waar nie?
Dit is waar die kritieke draaipunt inkom. Hierdie “vrye
teuels” wat Hy ons gee om ons eie besluite te maak is eintlik die Een Groot
Toets, wat, as jy slaag, gewaarborg is om vir jou geluk en vervulling in
swembadgrootte bakke aan te gee. Die vraag is, vertrou jy My? Geen spesifikasie
word gemaak vir tyd of gebied van vertroue nie. Die vertroue is, met ander
woorde, nie uitsluitlik vir jou liefdeslewe, of akademie of padveiligheid nie.
Die opsies is nie 1. Ja, 2. Ja, Maar en 3. Nee nie. Dis ‘n eenvoudige
twee-moontlikheid opsie. “Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie
koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.” – Openbaring 3:16.
Die vergelyking van ‘n kar kan gebruik word. Om hierdie
vraag reg te beantwoord is dit nodig om heeltemaal die kar te stop, bestuurders
om te ruil, en van voor af te begin. Jy KAN teen 120km/h op die snelweg
bestuurders ruil, maar dit is soveel meer gevaarlik, stresvol en moeilik vir
almal betrokke. En as jy wel iemand anders agter die stuur geplaas het, gaan
die kar enigsins ordentlik kan ry as jy nog jou hand op die rathefboom of jou
voet op die versneller het? Dit beteken nie jy moet skielik ‘n oomblik van
helderheid hê en daarna sal jou geloofslewe in orde wees nie, want hierdie
proses gaan aanhou tot die dag dat jy doodgaan. Maar jy moet begin briek, want
jy wil so gou moontlik besef hoeveel dinge jy eintlik nog aan jouself toeëien.
Nou wat nou gemaak? Hou ons summier op met ons lewens en
gaan klooster onsself weg? Verwag ons ‘n uitruilskema van “Bybelversies vir
geluk” of iets soortgelyk?
Nee. “As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld
julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort
nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle.”
– Johannes 15:19
Ons gaan dit nie maklik hê nie. Om evangelisasie te kan
doen, moet ons uitgaan in die wêreld en Sy voorbeeld leef. Dit beteken dat
sommige prokureurs moet word, sommige rekenmeesters, en sommige loodgieters,
want elkeen gaan op plekke kom wat net hy of sy in daardie beroep, met daardie
geleenthede toegelaat word. Dit beteken egter ‘n radikale verandering in hoe jy
jou geluk benader. Tans werk ons hard in die dag, kom in die aand by die huis
en verwag ‘n meer ontspanne atmosfeer, want ons verdien dit. Dieselfde gebeur
in ons geloof. Ons swot en werk hard, en doen klomp dinge omdat ons moet, omdat
ons belangrik is of omdat ons kan. Dan, wanneer dinge begin sleg gaan, draai
ons na God toe en verwag dat Hy die slack optel omdat Hy mos belowe het dat Hy
vir ons sal sorg. En omdat ons mos bid, Bybel lees en kerk toe gaan, kan ons
vanuit ‘n rustige gemoed se “Maar kyk net hoe goed volg ek vir U, dis darem nou
tyd dat U weer iets vir my doen”, so asof ons die heeltyd een treë voor Jesus
probeer bly en dan vanuit ‘n posisie van eie prestasie probeer bargain om ons
verder te bring.
Dalk is jou doel juis nie dit waaraan jy so hard gewerk het
nie. Dalk het God iets heeltemaal anders in gedagte vir jou as jou eie planne.
Dalk besef jy dit al, maar wil jy EINTLIK nie daardie pad volg nie, want in jou
oë kan dit eenvoudig nie goed eindig vir jou nie. En dit is hier waar ons moet
terugkyk en agterkom dat Hy nog altyd getrou was. Neem gou ‘n oomblik en dink
of daar al ‘n situasie was waar jy oortuig was jy die regte keuses en besluite
geneem het, en dinge toe nie uitgewerk het soos dit moes nie; was daar ook al
gevalle waar jy keer op keer die verkeerde besluit gemaak het, maar dinge wel
opgeëindig het met jou op ‘n beter posisie as wat jy andersins sou dink jy in
sou wees?
Maar hierdie stryery oor wêreldse pryse vir hemelse geloof is
nie die punt nie. Gee jy jou tiende omdat jy moet, of omdat jy so vas oortuig
is dat jou finansiele sukses van God afhang dat dit nie saakmaak hoeveel jy
weggee nie, want Hy is in beheer? Sy Plan is altyd volmaak, en as jy terugkyk
op jou lewe sal jy agterkom dat ten spyte van die feit dat jy al heel pad spook
teen dit wat Hy vir jou beplan, het Hy dinge laat uitwerk op so ‘n ongelooflike
manier dat jy nie net lewe op die oomblik nie, maar mense het wat lief is vir
jou, geleenthede het wat jou nuwe ervarings bied en uitdagings wat jou
versadig. Soms is die balans hiervan in ons oe heeltemaal uit; soms is die
verhouding tussen vriende en uitdagings gans te klein, byvoorbeeld. “Geen
versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God
is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte veroek word nie; as die
versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” – 1
Korintiërs 10:13. As jy in ‘n situasie is waar jy voel jy spartel nou te erg;
jy kan nie meer uithou in hierdie omstandighede nie, die versoeking om in te
gee is net te erg... Gee in. Maar gee in aan God. Stuur ‘n gebed op wat vra dat
Hy jou sal verlos, dat Hy jou sal help, en hou op probeer om op jou eie krag
deur die ding te kom. Want in hierdie geval kan mens die Engelse gesegde aanpas
om te lui: “We may still have a battle, but He’s already won the war.” Dit gaan
nie beteken dat jy nooit weer daarmee gaan sukkel nie. Maar dit gaan beteken
dat jy die volgende keer wat dit gebeur, vinniger gaan onthou dat jy nie self
daarteen moet spook nie, maar dit vir God gee. Want Hy het daarteen geveg. Hy
het baklei, en met sy Lewe betaal sodat ons verlos kan word van alle sonde, van
alle versoeking en beproewing. Om nie dit vir Hom te gee nie is nie net sleg
vir jou nie, maar wys dat jy nie Sy opoffering aan die kruis sien as genoeg om
jou probleme op te los nie.
Dit is hoekom ons al hoe meer in die Woord moet leef. “Dit
gaan goed met die mens wat deur U opgevoed word, Here, vir wie U onderrig in u
woord.” – Psalms 94:12. Die enigste manier om onderrig te word deur God is om
te leef in die Woord. Om dit nie net iets te maak wat jy vir 10 minute ‘n aand
deurblaai nie, maar om dit te leer ken. Want hoe meer jy dit leer ken; dit
lees, daaroor dink, daaroor gesels met God in gebed en met mense in gesprekke,
hoe meer gaan dit deel word van jou en hoe meer gaan jy in alledaagse situasies
kom en ‘n vers onthou wat betrekking het tot die situasie. Ons lees nie Bybel
om God gelukkig te maak nie. Ons lees Bybel want God wil ons gelukkig maak.
Die moeilikste deel van Christen-wees is nie om te bekeer,
of om deur die slegte tye moed te hou nie. Dis om in die tye wanneer jy nie
weet of dit goed of sleg gaan nie, raak te sien dat God nie uitgetreë het tot
die volgende krisis nie, maar dat jy steeds besig is om die teuels te gryp by
Hom. Los die stuurwiel. Gee oor. Vertrou. En wees gelukkig.
Subscribe to:
Comments (Atom)