Ek't dit oorweeg om af te skop met die Marikana-debakel, maar ek gaan dit 'n paar dae laat staan tot ek meer bronne tot my beskikking het.
'n Korte vir die aand handel om die Dalai Lama se onlangse status op Facebook.
...
Ja, jy't reg gelees.
Die Dalai Lama, o eerwaarde leier van die Buddhistise geloof, het 'n Facebook-profiel. En op hierdie blad het hy Maandag 'n baie kontroversiële ding kwytgeraak.
As jy sukkel met woorde langer as twee lettergrepe of net nie lus is vir dink nie, kom die post basies neer daarop dat hy dink geloof (religion hierso, nie faith nie) nie meer voldoen as 'n basis vir die samelewing nie. Met ander woorde, dat jy nie meer jou sosiale reëls kan opstel rondom jou geloof nie.
Die Romeinse wettestelsel soos ons dit ken trek nou wel invloed uit verskeie geskiedkundige gebeurtenisse, maar as ons net gaan sit en daarna kyk is die Westerse regstelsel gebaseer op die Christelike geloof. Ons word geleer om op 'n spesifieke manier teenoor mekaar op te treë, en selfs sonder dat ons dit weet is sosiale etiket eintlik maar wat die Christelike Bybel al lank vir ons leer. Selfs meeste ateïste volg maar eintlik dieselfde sosiale reëls, al is dit net omdat hulle voel dis "reg".
Nou as geloof dan niks met sosiale gedrag uit te waai het nie, wat is "reg" en "verkeerd" dan? Dit is juis wat die Dalai Lama hier voorstel; dat sosiale gedrag en die samelewing se reëls heeltemaal herdink moet word. Dat die manier hoe ons mekaar en onsself hanteer op 'n nuwe manier gebaseer moet word; volgens Sam Harris, 'n uitgesproke ateïs, is wetenskap die antwoord.
"The moment we admit that questions of right and wrong, and good and
evil, are actually questions about human and animal well-being, we see
that science can, in principle, answer such questions.", lui sy opinie uit 'n onlangse onderhoud met die Mail & Guardian.
So die idee, klink dit my, is om te gaan sit en iets nuuts te kry waarop mense hul morele kompasse kan instel. Wees dit nou 'n nuwe konsep of 'n eeue-oue mantra, ons benodig iets wat nie tans gebruik word as 'n hoeksteen vir etiese reëls nie. Volgens die Dalai Lama is geloof, as 'n manier van leef, dood.
Kom dit neer daarop dat geloof eintlik niks te doen het met die samelewing nie? Dat jou geloofslewe iets heeltemaal apart van jou daaglikse roetine en sosiale omgang met mense moet wees? En, opvolgvraag, beteken dit nie dan dat ons geloof eintlik heeltemaal nutteloos is nie? Want as jy geen praktiese doel vir jou geloof het nie is daar geen rede om dit te beoefen nie.
Uiteindelik begin hierdie sosiale verskynsel bietjie uitstaan. 'n Siekte, voel dit my, wat al diep in die wortels van die Christen-samelewing ingekruip het en 'n oorsaak is van 90% van die ammunisie wat die nie-Christen wêreld het teen die geloof. Die feit dat die leier van 'n ander geloof dit kan raaksien maak my bekommerd dat dit al op 'n stadium gekom het waar dit moeilik gaan raak om om te keer. Maar, soos hulle sê, confession is the first step to recovery.
Ek is 'n Christen. Maar kom ons sê vir die doel van hierdie artikel dat ek nie is nie. Ek staan en vergelyk 'n gemiddelde student met 'n gemiddelde "Christen"-student en vind dat ek verbasend min verskille sien. Die een het 'n effens groter uitgawe; R200 deposito (vir 'n Bybel) en dan jou R10 weeklikse afbetaling, maar behalwe daarvoor pas die silhoette amper perfek oor mekaar. Sure, daar is altyd 'n verskoning van "niemand is perfek nie" en "mense is EINTLIK goed, as jy na hulle kyk", maar vee nou al die beesmis van die stoep af en jy bly sit met die skoon waarheid: Christene het hulle Bybelse ideale verruil vir 'n versagte vonnis.
Ons gaan nou nie eers in op leefstyle of 'n spesifieke lys van sondes of daai tipe snert waarmee dominees dit so geniet om die gemeente se skuldgevoelens deur hul beursies in die bordjies in te jaag nie. Hier praat ons bloot van 'n manier van dink. Van daai basis van sosiale interaksie waaroor die Dalai Lama hom nou bekommer. Die vraag spring weer voor ons uit: Is geloof 'n *giggel* geloofwaardige basis vir ons samelewing?
Dink bietjie daaroor. As iemand die parkeerplek voor jou vat, gaan jy jouself in daai persoon se skoene plaas en vir 'n oomblik dink dat hy dalk net so aan die jaag is soos jy self en dalk nie die ander kar met die flikkerlig in die gemaal van karre rondom die een oop plek naby die winkel waar hy net 10 minute het om by uit te kom en dan dadelik moet terughardloop want ek kan nie meer beskostig om een keer laat te wees nie, die baas sal my 'n week se salaris aftrek en... ?
Nee. Nee, jy gaan nie. Want al waaraan jy kan dink is die bloed wat in jou nek opstoot en jy sit die kar in neutraal en jy klim uit en jy rol jou moue op want WIE DE HEL DINK JY IS JY DAT JY MY PLEK VAT?!?
Woede is 'n natuurlike reaksie. 'n Wetenskaplike reaksie. Maar is dit die reaksie wat op die ou einde die beste uitweg gaan gee? Gaan dit beter vir jou gemoed uitwerk as jy 'n vreemdeling se tande inmoer en dan twee weke in 'n tronksel slaap en nooit weer die land mag verlaat nie? Want die reaksie om eerder die ou daai stukkie geluk te gun en die oop parkeerplek 10 meter verder te vat is nie een wat natuurlik, wetenskaplik kom nie. Dis een wat 'n lewensstyl gebaseer op geloof voorstel. Waar om die ander wang te draai nie beteken om na 'n ou toe te stap en als wat jy het aan hom te gee nie, maar eerder om die ander persoon met 'n greintjie respek te behandel, en jouself in sy/haar skoene te plaas. "Doen aan ander soos wat jy aan jou gedoen wil hê" word dan nie 'n irriterende rympie van jou Sondagskooldae nie, maar 'n herrinnering dat, net miskien, daai ander ou ook sit met 'n vrek slegte dag, verhoudingsprobleme, skuld en 'n hoes wat nou al hoe meer ernstig begin klink. Iemand het een keer gesê dat as jy saam met 'n klomp mense om 'n tafel sit en almal hulle probleme op die tafel uitpak, jy maar weer jou eie issues sal wil terugvat. Almal dra maar hul eie kruis, en raak dit gewoond.
As ek aan die Dalai Lama repliek kon lewer, sou dit die volgende wees: dis nie geloof as sulks wat nie meer 'n gesonde basis vir die samelewing is nie, maar eerder "gelowiges" wat die samelewing hul basis maak in plaas van geloof.
'n Interessante artikel wat ek vandag beetgehad het stel die teorie dat mense fundamenteel anders situasies assesseer as hulle self daarin is teenoor as ander mense dit beleef. Dink byvoorbeeld as jy gaan stap met 'n kennis, en die ander persoon val oor 'n klip. Jou eerste reaksie is om die persoon te klassifiseer as lomp en onkundig in jou kop, en dit vorm dan deel van jou uiteindelike prentjie van die persoon. As jy egter self oor die klip gestruikel het sou jy dadelik die omgewing blameer het ("jis maar daai klip was goed weggesteek") en geen verandering aan jou persoonlike opvatting van jouself gemaak het nie. Ons kan nie sommer hiervan wegkom nie; dis 'n natuurlike reaksie van ons psige. Die enigste manier wat, tot dusver, bewys is om hierdie denkproses te keer, is om te stop en jouself in die ander persoon se skoene te plaas. Dink presies wat dit is wat jy sou voel, dink en doen as dit jy was wat pas daai parkeerplek gevat het.
Die een gemene faktor onder al die grootste gelowe in die wêreld is die algemene wil om 'n goeie lewe te leef en goed aan ander te doen. Kom ons hou op wegkruip agter 'n stel sosiale norme wat gebou is op die Christen-geloof, afgewater is met menseregte en toe omgedolwe is met sosiale aanvaarding, en begin ANDERS leef. Ek praat nie met die Christene onder ons nie, ek praat met ALMAL. Want alhoewel dit baie van toepassing is op die Christen-student, het dit net soveel relevansie teenoor elkeen van ons. Selfs al is jy nie 'n Christen nie, beteken dit nie dat net omdat die Bybel sê jy moet nice wees met ander mense, dit 'n slegte ding is nie.
Ek glo geloof is wel 'n goeie basis vir 'n gesonde samelewing. Ek glo nie geloof moet in elkeen se keelgat af forseer word of dat 'n samelewing nie gesond kan wees sonder 'n 100% bekeringstal nie, maar dat 'n gesonde samelewing begin by 'n stel gesonde waardes. En dat geloof 'n baie gesonde stel waardes bied waarop die basis van 'n positiewe gemeenskap gebou kan word. Maar op die ou einde hang dit alles af van die individu, en of jy bereid is om opofferings te maak sodat jou samelewing van rigting kan verander.
Wees anders as die gemiddelde student. Wees anders as die gemiddelde mens. Wees die een wat die skaal gaan tiep ten gunste van 'n positiewe verandering.
"As die lot van die mensdom neergekom het op 'n enkele keuse van 'n onwetende persoon, sou jy nie graag die regte keuse wou maak nie?"
die grondliggende konflik in die Westerse Christellike geloof is: "Justice will not be done"...
ReplyDeleteBaie waar. Veral diegene wat die stelsel uitbuit en van "model"-gemeenskapslede misbruik maak
DeleteMartin, kan jy dalk die skakel na die artikel wat jy hier na die einde se kant toe bespreek, hier plaas? Ek verskil effens daarvan dat 'n mens se eerste reaksie is om iets negatief van ander mense te dink (of jy nou wil of nie) as hulle iets slegs oorkom. Ek sal graag die oorspronklike redenasie wil lees.
ReplyDeleteDis ongelukkig 'n geskrewe artikel, maar ek sal dit gaan opsoek en kyk of daar 'n elektroniese kopie beskikbaar is.
DeleteCool, ek't een opgespoor. Dis 'n Lifehacker artikel van 'n rukkie terug.
Deletehttp://lifehacker.com/5942419/how-to-avoid-the-natural-reactions-that-prevent-good-decision-making
Ek gaan kommentaar lewer in die volgorde wat die paragrawe verskyn, so jammer as ek nie koherent oorkom nie.
ReplyDeleteDit is waar dat moderne Westerse regskouing beïnvloed is deur die Christendom maar jy moet 'n onderskeid tref tussen wet en etiek/waardes. Christelike etiek is NIE universeel nie en om dit as basis te beskou van alle etiek is baie moeilik. Die grootste etiese basis wat die Christendom beskou as hul eie is die sogenaamde goue reël wat maklik bewys kan word het al van die vroegste eeue af bestaan in ontelbare samelewings. As ons die Bybel beskou as etiese riglyn in sy totaliteit dan kan mens grootskaalse verwerping en afskaffing van Christelike etiek sien. Die doodstraf, homoseksualiteit en eer van die Sabbatdag om net 'n paar te noem. In elkeen van hierdie gevalle stem die oorgrote meerderheid van die samelewing saam dat die Bybelse idee nie strook met hoe ons moet (of selfs WIL) lewe nie.
En hier kom ek nou by my punt. Ek dink die Dalai Lama is besig om iets ongelooflik belangrik, tog spesifiek, te fokus. Om geloof te gebruik as basis vir etiek is nie meer VOLDOENDE nie. En sy gevolgtrekking is dat ons moet na etiek kyk as 'n universele tema in ons samelewing as mensdom eerder as ekt myne, en jyt joune.
En dan net in die volgende sin kry jy dit heeltemal verkeerd: "Nou as geloof dan niks met sosiale gedrag uit te waai het nie, wat is "reg" en "verkeerd" dan? Dit is juis wat die Dalai Lama hier voorstel; dat sosiale gedrag en die samelewing se reëls heeltemaal herdink moet word."
My personnlike opinie, en die van miljoene ander is dat ons nie geloof (religion) nodig het om as morele agente op te tree nie, inteendeel, ons word gebore met sekere etiese imperatiewe van wat reg of verkeerd is. Daarobo het elke samelewing wat nog ooit bestaan het sy eie stel etiese reëls gehad en ontwikkel waarsonder dit nie kon bestaan nie. My punt is die Christendom het die westerse beskouing van etiek in sekere opsigte beïnvloed maar etiek ontwikkel saam met die samelewing en dit is nie uniek aan westerse of selfs sogenaamde Christelike samelewings nie.
Volgende punt. Die Dalai Lama sê nêrens dat ons alle etiek moet uitgooi nie, of dit nou onmiddelik moet herdink nie. Inteendeel sê hy dat ons vorentoe 'n pad moet vind dat ons universeel as mensdom oor etiek moet kan praat sonder die invegting van gelowe. M.a.w. vorentoe moet ons nie geloof gebruik as hoeksteen van etiek nie want wie se hoeksteen gebruik ons dan?
Beoefening van geloof: Jy behou alle reg voor om nie saam te stem met moderne etiek nie en as Christen behoort jy van die oudste eeue af al nie saam te kon stem nie. Onthou dat die doel van Christenskap nie gan oor om 'n goeie lewe te lei nie. Wieookal dit sê is verkeerd. Dit gaan oor die verhouding tussen die mens en God. Goeie "Bybelse" etiese waardes is 'n vrug daarvan, nie vice versa nie.
Ek verpes Sam Harris se sentiment daar. Ja ons kan dink aan wetenskaplike konsepte soos die "greater good" en "maksimisering van geluk" maar jou woede voorbeeld wys juis dat die "wetenskap" alleen nie kan dien as basis vir etiek nie. En rakende jou "logiese" uitkoms van geloof gebaseerde etiek... Laat ek sê dat ek nog nooit so iets beleef het nie. Maar ja ons moet ander mense in ag neem, dit is 100% korrek en ons doen dit te min, gelowiges, nie gelowiges, almal doen dit te min, is dit nie dalk 'n teken van die universaliteit van die probleem nie?
Ek stem 100% saam met jou 4de laaste paragraaf maar of geloof (religion) die beste basis is weet ek nie. Dit kom weer neer op wie s'n moet ons volg? Islam? Christendom? Judaisme? Beste van elk? Wie moet ons die meeste gelukkig maak en die meeste uitsluit?
Ek hoop ek maak sin :)
Groete!
Baie dankie vir die reply, Gerrit. Maak baie sin, en dis juis die tipe terugvoer wat ek wil hê.
DeleteEk dink twee dinge wat ek wel onduidelik gelaat het is dat, eerstens, my enigste ervaring van regs- en etiekstelsels dié van Suid-Afrika, Namibië, Engeland en die VSA is, wat almal definitief aanvanklik op Christendom as 'n geloof is. Maar ek stem wel met jou saam dat die Westerse wêreld as 'n geheel baie eerder op daardie "goue waardes" rus as op Christendom self. En tweedens dat ek die Dalai Lama se post net as wegspringpunt gebruik het om die debat rondom geloof se plek in die samelewing af te skop; ek het nie bedoel dat hy self al hierdie standpunte ondersteun nie.
Weereens, thanks vir jou gedagtes. Hoop om nog sulke terugvoer te kan kry!
Selfs Paulus het die idee van 'n inherente moraliteit erken:
ReplyDeleteRomeine 2:14. Wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself 'n wet al het hulle nie die wet nie.
Nogals 'n cool vers wat ek nie eers opgelet het nie... dankie!
Delete