Ek't dit oorweeg om af te skop met die Marikana-debakel, maar ek gaan dit 'n paar dae laat staan tot ek meer bronne tot my beskikking het.
'n Korte vir die aand handel om die Dalai Lama se onlangse status op Facebook.
...
Ja, jy't reg gelees.
Die Dalai Lama, o eerwaarde leier van die Buddhistise geloof, het 'n Facebook-profiel. En op hierdie blad het hy Maandag 'n baie kontroversiële ding kwytgeraak.
As jy sukkel met woorde langer as twee lettergrepe of net nie lus is vir dink nie, kom die post basies neer daarop dat hy dink geloof (religion hierso, nie faith nie) nie meer voldoen as 'n basis vir die samelewing nie. Met ander woorde, dat jy nie meer jou sosiale reëls kan opstel rondom jou geloof nie.
Die Romeinse wettestelsel soos ons dit ken trek nou wel invloed uit verskeie geskiedkundige gebeurtenisse, maar as ons net gaan sit en daarna kyk is die Westerse regstelsel gebaseer op die Christelike geloof. Ons word geleer om op 'n spesifieke manier teenoor mekaar op te treë, en selfs sonder dat ons dit weet is sosiale etiket eintlik maar wat die Christelike Bybel al lank vir ons leer. Selfs meeste ateïste volg maar eintlik dieselfde sosiale reëls, al is dit net omdat hulle voel dis "reg".
Nou as geloof dan niks met sosiale gedrag uit te waai het nie, wat is "reg" en "verkeerd" dan? Dit is juis wat die Dalai Lama hier voorstel; dat sosiale gedrag en die samelewing se reëls heeltemaal herdink moet word. Dat die manier hoe ons mekaar en onsself hanteer op 'n nuwe manier gebaseer moet word; volgens Sam Harris, 'n uitgesproke ateïs, is wetenskap die antwoord.
"The moment we admit that questions of right and wrong, and good and
evil, are actually questions about human and animal well-being, we see
that science can, in principle, answer such questions.", lui sy opinie uit 'n onlangse onderhoud met die Mail & Guardian.
So die idee, klink dit my, is om te gaan sit en iets nuuts te kry waarop mense hul morele kompasse kan instel. Wees dit nou 'n nuwe konsep of 'n eeue-oue mantra, ons benodig iets wat nie tans gebruik word as 'n hoeksteen vir etiese reëls nie. Volgens die Dalai Lama is geloof, as 'n manier van leef, dood.
Kom dit neer daarop dat geloof eintlik niks te doen het met die samelewing nie? Dat jou geloofslewe iets heeltemaal apart van jou daaglikse roetine en sosiale omgang met mense moet wees? En, opvolgvraag, beteken dit nie dan dat ons geloof eintlik heeltemaal nutteloos is nie? Want as jy geen praktiese doel vir jou geloof het nie is daar geen rede om dit te beoefen nie.
Uiteindelik begin hierdie sosiale verskynsel bietjie uitstaan. 'n Siekte, voel dit my, wat al diep in die wortels van die Christen-samelewing ingekruip het en 'n oorsaak is van 90% van die ammunisie wat die nie-Christen wêreld het teen die geloof. Die feit dat die leier van 'n ander geloof dit kan raaksien maak my bekommerd dat dit al op 'n stadium gekom het waar dit moeilik gaan raak om om te keer. Maar, soos hulle sê, confession is the first step to recovery.
Ek is 'n Christen. Maar kom ons sê vir die doel van hierdie artikel dat ek nie is nie. Ek staan en vergelyk 'n gemiddelde student met 'n gemiddelde "Christen"-student en vind dat ek verbasend min verskille sien. Die een het 'n effens groter uitgawe; R200 deposito (vir 'n Bybel) en dan jou R10 weeklikse afbetaling, maar behalwe daarvoor pas die silhoette amper perfek oor mekaar. Sure, daar is altyd 'n verskoning van "niemand is perfek nie" en "mense is EINTLIK goed, as jy na hulle kyk", maar vee nou al die beesmis van die stoep af en jy bly sit met die skoon waarheid: Christene het hulle Bybelse ideale verruil vir 'n versagte vonnis.
Ons gaan nou nie eers in op leefstyle of 'n spesifieke lys van sondes of daai tipe snert waarmee dominees dit so geniet om die gemeente se skuldgevoelens deur hul beursies in die bordjies in te jaag nie. Hier praat ons bloot van 'n manier van dink. Van daai basis van sosiale interaksie waaroor die Dalai Lama hom nou bekommer. Die vraag spring weer voor ons uit: Is geloof 'n *giggel* geloofwaardige basis vir ons samelewing?
Dink bietjie daaroor. As iemand die parkeerplek voor jou vat, gaan jy jouself in daai persoon se skoene plaas en vir 'n oomblik dink dat hy dalk net so aan die jaag is soos jy self en dalk nie die ander kar met die flikkerlig in die gemaal van karre rondom die een oop plek naby die winkel waar hy net 10 minute het om by uit te kom en dan dadelik moet terughardloop want ek kan nie meer beskostig om een keer laat te wees nie, die baas sal my 'n week se salaris aftrek en... ?
Nee. Nee, jy gaan nie. Want al waaraan jy kan dink is die bloed wat in jou nek opstoot en jy sit die kar in neutraal en jy klim uit en jy rol jou moue op want WIE DE HEL DINK JY IS JY DAT JY MY PLEK VAT?!?
Woede is 'n natuurlike reaksie. 'n Wetenskaplike reaksie. Maar is dit die reaksie wat op die ou einde die beste uitweg gaan gee? Gaan dit beter vir jou gemoed uitwerk as jy 'n vreemdeling se tande inmoer en dan twee weke in 'n tronksel slaap en nooit weer die land mag verlaat nie? Want die reaksie om eerder die ou daai stukkie geluk te gun en die oop parkeerplek 10 meter verder te vat is nie een wat natuurlik, wetenskaplik kom nie. Dis een wat 'n lewensstyl gebaseer op geloof voorstel. Waar om die ander wang te draai nie beteken om na 'n ou toe te stap en als wat jy het aan hom te gee nie, maar eerder om die ander persoon met 'n greintjie respek te behandel, en jouself in sy/haar skoene te plaas. "Doen aan ander soos wat jy aan jou gedoen wil hê" word dan nie 'n irriterende rympie van jou Sondagskooldae nie, maar 'n herrinnering dat, net miskien, daai ander ou ook sit met 'n vrek slegte dag, verhoudingsprobleme, skuld en 'n hoes wat nou al hoe meer ernstig begin klink. Iemand het een keer gesê dat as jy saam met 'n klomp mense om 'n tafel sit en almal hulle probleme op die tafel uitpak, jy maar weer jou eie issues sal wil terugvat. Almal dra maar hul eie kruis, en raak dit gewoond.
As ek aan die Dalai Lama repliek kon lewer, sou dit die volgende wees: dis nie geloof as sulks wat nie meer 'n gesonde basis vir die samelewing is nie, maar eerder "gelowiges" wat die samelewing hul basis maak in plaas van geloof.
'n Interessante artikel wat ek vandag beetgehad het stel die teorie dat mense fundamenteel anders situasies assesseer as hulle self daarin is teenoor as ander mense dit beleef. Dink byvoorbeeld as jy gaan stap met 'n kennis, en die ander persoon val oor 'n klip. Jou eerste reaksie is om die persoon te klassifiseer as lomp en onkundig in jou kop, en dit vorm dan deel van jou uiteindelike prentjie van die persoon. As jy egter self oor die klip gestruikel het sou jy dadelik die omgewing blameer het ("jis maar daai klip was goed weggesteek") en geen verandering aan jou persoonlike opvatting van jouself gemaak het nie. Ons kan nie sommer hiervan wegkom nie; dis 'n natuurlike reaksie van ons psige. Die enigste manier wat, tot dusver, bewys is om hierdie denkproses te keer, is om te stop en jouself in die ander persoon se skoene te plaas. Dink presies wat dit is wat jy sou voel, dink en doen as dit jy was wat pas daai parkeerplek gevat het.
Die een gemene faktor onder al die grootste gelowe in die wêreld is die algemene wil om 'n goeie lewe te leef en goed aan ander te doen. Kom ons hou op wegkruip agter 'n stel sosiale norme wat gebou is op die Christen-geloof, afgewater is met menseregte en toe omgedolwe is met sosiale aanvaarding, en begin ANDERS leef. Ek praat nie met die Christene onder ons nie, ek praat met ALMAL. Want alhoewel dit baie van toepassing is op die Christen-student, het dit net soveel relevansie teenoor elkeen van ons. Selfs al is jy nie 'n Christen nie, beteken dit nie dat net omdat die Bybel sê jy moet nice wees met ander mense, dit 'n slegte ding is nie.
Ek glo geloof is wel 'n goeie basis vir 'n gesonde samelewing. Ek glo nie geloof moet in elkeen se keelgat af forseer word of dat 'n samelewing nie gesond kan wees sonder 'n 100% bekeringstal nie, maar dat 'n gesonde samelewing begin by 'n stel gesonde waardes. En dat geloof 'n baie gesonde stel waardes bied waarop die basis van 'n positiewe gemeenskap gebou kan word. Maar op die ou einde hang dit alles af van die individu, en of jy bereid is om opofferings te maak sodat jou samelewing van rigting kan verander.
Wees anders as die gemiddelde student. Wees anders as die gemiddelde mens. Wees die een wat die skaal gaan tiep ten gunste van 'n positiewe verandering.
"As die lot van die mensdom neergekom het op 'n enkele keuse van 'n onwetende persoon, sou jy nie graag die regte keuse wou maak nie?"
Thursday, 13 September 2012
Dubbel en Dwars
Net nog 'n blogger.
Net nog een van die twaalfduisend-en-tien Afrikaanse studente wat dink hulle opinies is effe meer werd as díe van die volgende ou. Net nog 'n ou met issues wat stelselmatig die daglig sien en van hom TOG so 'n diep mens maak. Net nog 'n stem in die koor van liberale politieke uitsprake, nog 'n ou met "unieke uitkyke, maar dis SO WAAR wat hy sê!!!", nog iemand wat meer uitroeptekens gebruik as wat hy al meisies gesoen het.
Het die wêreld rerig nog so iemand nodig?
Hierdie poog om 'n anderster blog te wees. Nie maar net 'n web-joernaal van 'n gemartelde siel se gedagtes nie, en nie 'n plek waar jy twee weke laat 'n random ou se opinie oor Zuma se nuutste vrou kan lees nie.
Nee, die idee is om debat aan te moedig. Om jou te laat dink. Te laat bevraagteken. Te laat stry. As dit nou in Engels was sou ek die blog "The Pasta Chef" genoem het, want ek wil heeltyd stir. Alle flou grappies op 'n stokkie, bied ek die onthulding van Dubbel en Dwars aan Jan Publiek vir jou genot. As 'n groot aanhanger van sielkunde glo ek dat die beste idees en opinies eers ten vore kom as jy mense aanmoedig om te sê wat hulle rerig dink; dis egter iets wat baiekeer eers uitkom as jy baie emosioneel raak. Daai keer wat jy, in trane, oor Whatsapp vir jou beste pel vertel het van wat nou eintlik laasnaweek gebeur het, of daai massiewe fight wat jy en jou ouers gehad het laas vakansie. DIS wanneer ons by die kern van die probleem aankom, en DIS wanneer ons meer van onsself, die samelewing en die stelsel begin leer.
So raak kwaad vir my. Neem dinge persoonlik op en gaan bos in die comment-afdeling. Stuur kritiek, stuur hate-mail. Dis die idee. Selfs al is dit omdat jy nie van my font se letter 'p' hou nie of dalk allergies is vir my shampoo, bring dit.
Dit is Dubbel en Dwars, en hier volg die nuus om 6.
Net nog een van die twaalfduisend-en-tien Afrikaanse studente wat dink hulle opinies is effe meer werd as díe van die volgende ou. Net nog 'n ou met issues wat stelselmatig die daglig sien en van hom TOG so 'n diep mens maak. Net nog 'n stem in die koor van liberale politieke uitsprake, nog 'n ou met "unieke uitkyke, maar dis SO WAAR wat hy sê!!!", nog iemand wat meer uitroeptekens gebruik as wat hy al meisies gesoen het.
Het die wêreld rerig nog so iemand nodig?
Hierdie poog om 'n anderster blog te wees. Nie maar net 'n web-joernaal van 'n gemartelde siel se gedagtes nie, en nie 'n plek waar jy twee weke laat 'n random ou se opinie oor Zuma se nuutste vrou kan lees nie.
Nee, die idee is om debat aan te moedig. Om jou te laat dink. Te laat bevraagteken. Te laat stry. As dit nou in Engels was sou ek die blog "The Pasta Chef" genoem het, want ek wil heeltyd stir. Alle flou grappies op 'n stokkie, bied ek die onthulding van Dubbel en Dwars aan Jan Publiek vir jou genot. As 'n groot aanhanger van sielkunde glo ek dat die beste idees en opinies eers ten vore kom as jy mense aanmoedig om te sê wat hulle rerig dink; dis egter iets wat baiekeer eers uitkom as jy baie emosioneel raak. Daai keer wat jy, in trane, oor Whatsapp vir jou beste pel vertel het van wat nou eintlik laasnaweek gebeur het, of daai massiewe fight wat jy en jou ouers gehad het laas vakansie. DIS wanneer ons by die kern van die probleem aankom, en DIS wanneer ons meer van onsself, die samelewing en die stelsel begin leer.
So raak kwaad vir my. Neem dinge persoonlik op en gaan bos in die comment-afdeling. Stuur kritiek, stuur hate-mail. Dis die idee. Selfs al is dit omdat jy nie van my font se letter 'p' hou nie of dalk allergies is vir my shampoo, bring dit.
Dit is Dubbel en Dwars, en hier volg die nuus om 6.
Subscribe to:
Comments (Atom)