Deesdae is dit baie moeilik om die konsep “rassisme” te
begryp. Waar trek jy die lyn tussen ‘n smaakvolle grap en diskriminasie? Weet
ons nog waar die grens tussen regstelling en teen-mensregtelike bevoordeling
lê? En die rede dat mense van verskillende rasse in Suid-Afrika nie ooreenkom
soos wat dit hoort nie is ook nie net te danke aan “‘n kultuurverskil” nie –
dis net wat mense vir hulself sê om minder skuldig te voel oor die onderwerp. Die
sosiale beleid van hoe jy iemand hanteer omdat hulle ouers finansiëel gesukkel
het onder die NP is egter ‘n baie groter skeiding as wat meeste mense agterkom.
As ‘n lid van die generasie wat eers leer spel het ná
Mandela die tronk verlaat het voel dit of ‘n onregverdige groot juk op ons
skouers rus. Want ons het mos geen rede om ander rasse te haat nie; ons is
grootgemaak in die Nuwe Suid-Afrika en as ons nou iets rassisties doen het ons
nie die samelewing, die regering óf die media daarvoor te blameer nie. En tog
is daar steeds ‘n onderliggende haat tussen volke; nie in alle dorpe nie, nie
onder alle mense nie, maar as daar niks was nie, sou organisasies soos die AWB
en mense soos Julius Malema nie die voorblad gehaal het nie.
Dis vrek moeilik om die afstammeling te wees van diegene wat
voorheen bo-aan die rassistiese voedselketting was. Mens kan nie net rassisme ignoreer
nie, want “grootmense hardloop nie weg van hul probleme nie” en so aan, so
gesprekke word daaroor gevoer, grappe word daaroor gemaak en, vir die
internasionale buitestander, lyk dit of die land volstoom beweeg na ‘n
kultureel eweredige Utopia. Die agterkant van die speelkaart lyk egter nie so
onbesmet nie; want word ‘n “casual” grap gemaak, is dit baie snaaks as dit
gerig is op die “voorheen bevoordeeldes”, maar as een van hulle ‘n humoristiese
opmerking gooi in die rigting van ‘n swart werker word hulle oor die voorblad
van die Rapport gepleister. Natuurlik is dit nie so in alle gevalle nie; ek ken
self baie mense wat uitsonderings is van daardie stellings, maar dit is ‘n
mentaliteit wat ek opgetel het in baie inwoners van die land.
Wat is makliker; om te vergeef en te vergeet, of om beurte
te maak om mekaar ekonomies, emosioneel en professioneel te benadeel soos ‘n
gewelddadige wipplank? Ek dink sommer aan die “slap-bet” van How I Met Your
Mother. Ons leef tans in ‘n land waar jy, as jy nie ‘n “voorheen benadeelde” is
nie, jy basies sit en wag soos Barney vir die volgende hou. Dit maak vir goeie
TV, maar dieselfde kan gesê word van Twilight en die oorlog in Irak. En terwyl
die groot meerderheid van die “voorheen bevoordeelde” volk dikbek sit en hul
straf vat met net ‘n paar vloekwoorde oor ‘n bier elke Saterdag en ‘n pen vol
ontevredenheid in die koerant, is daar enkeles wat net nie hierdie onreg kan
VERDRA nie, en om elke hoek en draai probeer om die weegskaal weer uit te
balanseer, volgens hulle. En elke nou en dan word een van hierdie Kulturele
Kruisvegters uitgevang, die hele storie gaan koerant toe en die regering sê
“Okay, julle wou mos stout wees, nou begin ons die hele uitbalansering van
Suid-Afrika van VOOR af.”
Dis waar die land die hele punt mis het. Sodra jy die balans
probeer regruk is jy juis besig om die teenoorgestelde te doen; dis soos om ‘n
draaiende tol met jou vinger te probeer regop hou, of om iemand wat koffie dra
se arm vas te hou sodat hy nie mors nie, of om fiets te probeer ry deur om die
een kant of die ander kant toe te lê in plaas van om dit net te laat gebeur.
Oorbeskermde kinders word meestal groot met baie minder volwassenheid as dié
wat van kleins af hulself moes huis toe vat na hulle in die tuin geval het.
Ek dans nou ‘n paar paragrawe lank al om die onderwerp, so
kom ek sit dit vas op papier: ek dink BEE en die hele konsep van “voorheen
benadeeldes” is destruktief tot die versoening van die land.
Ek gebruik die voorbeeld van Duitsland wat 2 maal in
Wêreldoorloë verslaan is, en elke keer binne een of twee geslagte kon opstaan
ten spyte van swaar internasionale belasting en die dominante ekonomiese en
industriële mag in Europa en die Wêreld kon wees. Hulle het nie bevoordeling
van ander lande of die goedhartigheid van die internasionale media gehad of
nodig gehad om hulself op te bou nie; dit was bloot ‘n kwessie van visie. Ek sê
nie dat dit is hoe die saak hanteer moet word nie; mens leer immers uit die
foute van ons voorouers, maar dat skemas soos wat klaar aangewend is wel
progressief bedoel was, maar baie swak implimenteer is. Kyk byvoorbeeld na
Lotto-wenners. Hoeveel van hulle het daardie miljoene wat hulle gekry het,
geneem en slim beleggings daarmee gemaak? Hoeveel van hulle sit nou met meer
rykdom as wat hulle ontvang het? Om vir mense die finansies en geleenthede te
gee op ‘n skinkbord is net pleinweg nie genoeg nie. Dis soos om R10,000 vir ‘n
boemelaar te gee en te verwag dat hy ‘n woonstel-, kar- en munisipale-paaiement
daaruit gaan kry met genoeg oor om homself vir die maand te voed en te klee. As
jy egter daardie R10,000 vir ‘n liefdadigheidsorganisasie (wat NIE korrup is
nie) gee, kan jy meer van hulle huisves en voed as wat jy sou kon dink moontlik
is.
Die onus van die saak kom in wanneer jy opvoeding in die
prentjie bring. Die streek met die hoogste opvoedingssyfers is toevallig ook
die streek met die beste gemiddelde gehalte van lewe. Toeval? Ek dink nie so
nie. Wat maak iemand met ‘n posisie as ‘n IT-bestuurder as hy nie weet dat C en
Java nie net ‘n letter van die alfabet en ‘n koffiegeur is nie? Sy velkleur het
NIKS met die saak uit te waai nie; ook nie die feit dat hy voorheen benadeel is
nie. Dit mag dalk die rede wees hoekom hy nie die verskil weet nie, maar die
aanstelling wat hy bo ‘n opgeleide “voorheen bevoordeelde” IT-bestuurder gekry
het gaan beslis nie maak dat hy skielik die nuwe Mark Zuckerberg word nie. Ons
almal ken die gesegde van om ‘n man te leer visvang, maar die toepassing
daarvan kan nie meer gepas wees as in die situasie nie. Sorg eerder dat almal
DIESELFDE geleenthede, hulpbronne en sosiale rang het, en hou dit as ‘n mikpunt
in plaas daarvan om die skaal te probeer uitbalanseer met dinge waarvan jy dalk
te laat sou uitvind as dit verkeerd aangewend is.
Om een volk voor te trek en ‘n ander te benadeel het nog
nooit uitgeloop op ‘n vredevolle, gelukkige land nie. Inteendeel, daardie
stelsels was altyd dekades later as “ouderwets”, “dom” en selfs “onmenslik”
beskryf. Maar die oplossing vir hierdie krisis lê nie op die regering of selfs
op ‘n enkele volk nie; dis ons elkeen se verantwoordelikheid om op te hou om
mense uit te sonder. “Diskriminasie”, per defninisie, is “the prejudicial or distinguishing treatment of an
individual based on their actual or perceived membership in a certain group or
category, such as their race...” Met ander woorde, selfs om iemand voor te trek
is diskriminasie.
Ek laat julle met die onduidelike sin wat probeer opsom wat
ek hierbo kwytgeraak het: “Om bewustelik teen diskriminasie te wees kan amper
net so skadelik wees as om onbewustelik te diskrimineer.”